Meer oor waar ons bly

Soos ek op die "meer oor ons" bladsy vertel, bly ons in Griomsiader op die eiland Lewis. Ons bly nie heeltemaal áf van die gebaande weë nie, maar dit verg tog 'n bietjie moeite en/of geld om by ons uit te kom. Stornoway is 'n 2.5 uur lange veerboot reis van Ullapool op die Skotse weskus. Ons is ook bereikbaar per vliegtuig van beide Glasgow & Edinburgh (vlugte van onderskeidelik 'n uur en 40 minute), maar g'n opsie is werklik goedkoop nie. Vlugte wissel tussen £70-£290 retoer en om 'n motor en 2 passasiers op die veerboot heen en terug te neem, gaan jou ongeveer £140 uit die sak jaag. En natuurlik is ons brandstofprys die hoogste in Groot-Brittanje... (wat dit nagenoeg die duurste ter wêreld maak.)

Griomsiader bestaan uit ongeveer 30 huise, 2 straatligte, 'n "Royal Mail" posbus, rooi BT telefoonhokkie, gemeenskapskerkie, baie skape en g'n winkels nie. (Dis nou as mens die "poskantoor" wat 2 uur per dag oop is in een van die "crofters" se garages nie inreken nie...). Die gehug is 'n tipiese lint-ontwikkeling en is omtrent 4 km lank. Ons bly ongeveer 12 km buite Stornoway, wat met nagenoeg 9,000 inwoners die grootste dorp in die Hebridies en ook die setel van die streeksregering vir die "Outer Hebrides", is. Dis 'n heel vriendelike gehug waar kinders nog veilig in die straat kan speel.

Om 'n idee te gee van hóé veilig dit is: Ons sluit nooit ons motors nie, en los dikwels die huis oop as on aflewerings verwag... Om eerlike te wees, die hoofrede hoekom ons nog die huis sluit, is oorblyfsels van Suid-Afrikaanse paranoia.

Die "Outer Hebrides" staan ook as die Westelike Eilande (Engels: Western Isles) bekend, maar wat my (en heelwat van die inwoners) aanbetref, is laasgenoemde grootliks sonder betekenis. Die woord "Hebrides" vind waarskynlik sy oorsprong in 'n drukfout van die woord "Hebudes"; volgens Ptolemeus (Egiptiese sterre- en wiskundige) die naam van die eilande wes van Skotland. "Hebudes" word op sy beurt gereken as 'n verwringing van die Noorse woord "Havbredey", wat 'eilande op die rand van die see' beteken.

Die Nore (Vikinge) het die Eilande regeer tot ongeveer 1266 en vier uit vyf plekname hier is Noors in oorsprong (onder andere ook Griomsiader). Maar soos jy kan sien, is plekname nie al wat die Nore nagelaat het nie.

Noorse Graanmeule
Gerestoreerde Noorse graanmeule naby Bharvas.

Soos jy waarskynlik opgemerk het, skryf ek van "eilande"; voor-die-hand-liggend bestaan die Hebrides uit talle eilande. Die grootste van die klomp is Lewis & Harris. Dis een eiland, maar die plaaslike mense praat van Lewis & Harris asof dit eintlike 2 eilande is. En op 'n manier is dit: Lewis is meer golwend in landskap, terwyl Harris ru & bergagtig is. Verder suid vind mens die eilande van Taransay, Berneray, Noord Uist, Benbecula, Suid Uist, Eriskay, Barra, Vatersay, Sandray, Pabbay en Mingulay. (Al die name is die Engelse ekwivalente, die Gaelies vir Benbecula, by voorbeeld, is Beinn na Faoghla.) Talle kleiner eilande, waarvan baie nog bewoon is, omring dié wat ek genoem het. Dis maar 'n yl-bevolkte omgewing -- nagenoeg 25,000 mense versprei oor al die eilande, met die grootste konsentrasie in Stornoway (Steòrnabhagh in Gaellies & uitgespreek "stêornowagh")

Die streeksregering, Comhairle nan Eilean Siar, (Gaellies vir "Raad van die Westelike Eilande") is 'n kruising tussen 'n dorpsraad en 'n streeksdiensteraad & is verantwoordelik vir ál die eilande in die "Outer Hebrides". Die raadslede word nie volgens politieke affiliteit verkies nie en verteenwoordig so 'n uiteenlopende kieserkorps (beide geografies en sosio-ekonomies) dat besluite alte dikwels onsamehangend en onverstaanbaar voorkom vir beide inwoners en buitestaanders.

Die eilande oos van die Minch is as die Binne Hebrides bekend; die mees bekende van die eilande sekerlik Skye en Mull. Die Minch is die seestraat wat die Binne & Buite Hebrides van mekaar skei en in die noorde, die skeiding tussen die Buite Hebrides en die Skotse vasteland.

callanish
Kliek vir meer Callanish foto's
Harris is wêreldberoemd vir tweed weefstof en Lewis vir die Callanish (Calanais in Gaelies) Rotssirkel. Die sirkel is netso indrukwekkend en omvangryk soos dié by Stonehenge op die Salisbury vlakte in Engeland, maar is nie so hoog nie. Callanish is is baie meer toeganklik as Stonehenge en mens kan tot binne die rotssirkel stap.

Die naam Lewis stam van die Gaeliese woord 'Leodhas' wat 'moerasagtig' beteken. Glo my vry: 'n heel akkurate naam! Ten spyte daarvan (of dalk 'n direkte gevolg!?) dat die Eiland onderlê word deur Lewis gneiss, teen 2,900 miljoen jaar die oudste rotsbedding in Europa, is hier moerasse in oorvloed. 'n Paar "wellies" (Wellington boots of, soos ons dit ken, waterstewels) is onontbeerlike toerusting vir 'n min-of-meer droogvoetse uitstappie oor die "moors."

'n Direkte gevolg van al die moerasse is veen of turf ("peat" op Engels). Veen is deesdae nie meer orals ewe belangrik as 'n brandstof nie, maar word nog steeds wyd or die Hebrides gebruik vir verhitting. (Natuurlik ook in die Skotse Hooglande in die vervaardiging van whisky!) Die plaaslike grazings clerk ken veenbanke toe en dan kan mens eie veen sny met 'n spesiale graaf (peat cutting tool). Veensny gebeur in laat-lente sodat die veen kan uitdroog gedurende somer, en dit is harde werk. tipiese veen bank
Tipiese veen bank

Vir talle van die inwoners van die Hebrides, veral die ouer geslag, is Engels hulle tweede taal. Gaelies, naas Grieks en Latyns die derde oudste literêre taal in Europa, is hul moedertaal en daar is nou 'n sterk beweging om die taal te bevorder. Gaeliese programme word op radio en TV uitgesaai, daar is Gaeliese onderrig in skole (beide as 'n vak en in dubbel-medium skole) en selfs Gaeliese speelgroepe. Anders as Afrikaans, kan talle ouer Gaelies-sprekendes die taal nie lees en skryf nie, aangesien kinders tot redelike onlangs uitsluitlik in Engels onderrig is.