Bath Besoek

Ek sou graag wou sê dat ek soos die Israeliete van ouds met my lendene omgord gewag het, maar dit kan nie. Ons sal maar nie op die mees voor-die-hand-liggende rede ingaan nie, maar dit kan nie hoofsaaklik omdat ek moeg en lui en half aan die sluimer uitgestrek lê in Kylee-se-stoel. (Niks met eienaarskap uit te make nie, net met voorliefdes).

Wagtend, onvermydelik, op die skoner geslag, want dis Vrydag-middag, begin van ons langnaweek-wegbreek na Bath. In die kombuis is die padkos gepak: lekker broodjies met avo en bloukaas en sampioene en soetrissie en tamaties en blaarslaai en blatjang. G’n wonder ek’s flou nie, harde werk om all die kombinasies en permutasie uit te werk. Stanley flesse vol koffie en tee. (Die tee was ‘n fout, kan ek nou bysê, al die dekselse teedrinkers ontpop toe so wraggies oppad in mense van karakter.) En o ja, appels en piesangs en sappies en Wine Gums en tjips en … Genoeg kos vir ‘n leër; ek kan nie help dat ek geskiedenis op skool gehad en Napoleon se lesse ter harte geneem het nie.

Nou ja, die plan was dat ons 15:30 ry, maar ek’t my reggemaak vir 16:00 want die inersie van 3 vrouens is hoog. Nou nie reële inersie nie (nee, so dapper is nie eens ek nie) net die virtuele inersie. 15:30 storm die 3 (Sonja, Kylee, die Australiese OT (dit rym op Engels) en Yolanda, Sonja se vriendin Mia se suster en vriendin uit eie reg) die huis binne. Vol verskoning oor besige verkeer. Bid jou aan, die magtige stad Rainham se spitstyd op ‘n Vrydagmiddag drie-uur? (OK, dit is so dat die skole ook daai tyd uitkom en die bloedjies ook nie deesdae meer kan loop nie; o nee, dit moet voor die skoolhek opgelaai word, verskoning dus aanvaarbaar.) Maar ek dwaal.

Vier-uur stap on by die deur uit, doodbetyds op my agterkop beplanning, maar die meisies klaar op die agtervoet oor my geraas en blaas dat ons laat is. (Mens moet vuil baklei as jy in die minderheid is.) Bondel in Kylee se Peugeot 106 in. Ek’s beïndruk: almal en alles pas, al pas my knieë rondom my ore en al is Sonja die enigste meisie wat weet van min pak. Moet my goeie invloed wees.

Mis darem die ergste van Londen se huis-toe-gaan verkeer (en sou selfs meer gemis het as die uwe beter gekonsentreer het sodat Kylee nie die A229 afdraai in die verkeerde baan benader en ons ‘n 20 myl draai ry nie). Sjuut daar uit die kombuis. Stop naby Basingstoke by ‘n “Welcome Break” en laat mense gaap met ons Checkerssak vol padkos so tussen al die tafels McDonalds en KFC deur. Who cares? Die meisies laaik my broodjies en koffie.

Ek en Kylee verstaan mekaar nie weer mis oor paaie nie en agtuur ry ons Bath binne. Die soektog na ‘n B&B is nie te erg nie, veral as mens in ag neem dat die hele Bath skielik Iers is vir die heilige Patrick se feesdag én die Bath halfmarathon oor die naweek afgedraf gaan word nie. Mens loop net in die staart af en kyk na al die “No Vacancies” bordjies tot jy uiteindelik omdraai en teruggaan na die B&B met ‘n Vancancy bordjie regoor waar jy geparkeer het. Die weë van ‘n vrou is onpylbaar…. En dié van drie?

Saterdagoggend verras die meisiekinders my en rapporteer op die minuut vir ontbyt. En ons verras die Sicileense mama wat ontbyt bedien, want Kylee eet nie vleis of eiers nie en Yolanda kan nie besluit of sy Post Toasties wil hê of nie wil hê nie. Why have a mind…? En ek dog ek maak ‘n wins met al die spek en varkworsies wat my rigting kom, met klem op dog want laatmiddag gee my kop kennis met ‘n migraine dat al daai preserveermiddels nie goed is vir mens nie.

Na ontbyt vaar ons die dorp binne. Die dubbelsinnige padpredikante na die “Tourist Information” kantoor maak dat ons driekwart van die “Bath Walkabout Tour” doen sommer nog vóór ons die kaart daarvoor het én dit nog op ons vol magies. Maar al die sandsteen en nou straatjies maak die verkenner in die meisies wakker en ek moet my beentjies roer om by te bly. Ek sjarrap en stap saam; sien net al die koffie- en fudgewinkels raak.

Tourist Information gee ons pryse vir bustoere en pamflette van dinge om te doen: genoeg om ‘n boek mee te maak. Na ‘n blits pow-wow op die plaveisel ruk ons op na die rooi busse vir ‘n toer deur Bath. Ons gids doen sy bes om nuwe lewe in sy bejaarde gesegdes en grappies te blaas, en kry dit reg dat die lyk met tye wil-wil roer. Hy ken gelukkig sy geskiedenis (hoe sal ek in elk geval weet as hy spekskiet?)en is eintlik heel onderhoudend. In ‘n driekwartier sien ons die belangrikste argitektoniese wonders wat Bath het om te bied: die Circus, geskoei op die Colosseum in Rome, maar binnekant buite gebou, die Royal Crescent met sy 114 Ioniese pilare, Pulteney se Brug, gebou met die Ponte Vecchio van Florence in gedagte en die Guildhall met ‘n a-tipiese “Lady of Justice” (sonder haar blinddoek) op die dak. Ons sien ook die toegeboude vensters wat gelei het tot die uitdrukking “daylight robbery”. (Blykbaar het een of ander vraatsige koning belasting gehef op huise met meer as ses vensters, wat gelei het tot belastingvermyding op ‘n heel praktiese, hoewel esteties-onaanvaarbare, metode.)

Die toer in die fris en vars lente-lug op die boonste (oop) verdieping van die bus, maak ‘n onkeerbare koffie-lus in my wakker en ons ruk op na Pulteney se Brug. Kry ‘n oulike klein koffiewinkel op die brug en ek en Sonja kry dit reg om sterk te staan in ons “Lent” onderneming (g’n sjokolade) en weg te bly van die uiters aanloklike chocolate fudge tart… Maar ons kan kommentaar lewer op die vars-gebakte suurlemoensponskoek en gemmerbrood. Hoe-ha!

Wat’s besonders aan die brug? Wel, dis gebou in 1769 en dra steeds moderne verkeer. Daar’s ook winkeltjies aan weerskante van die brug (dws winkels oor die rivier) en argitektonies heel esteties aanvaarbaar in my leke-oog.

Op ‘n vroeëre aanbeveling van die bustoergids, gaan maak ons via die binneshuise mark (hey, daar's die 3 vrouens saam met my!) ‘n draai by die Guildhall om na die drie kandelare (gewaardeer op ‘n miljoen pond elk) te gaan kyk. Ek’s nie omgepraat dat dit ‘n goeie miljoen pond is nie, maar die banketsaal is darem gepas indrukwekkend met sy hoë plafon en beskilderde mure.

Daarna kom die baddens aan die beurt. Wat kan ek sê? Die Romeine kon bou! 1,500 jaar later en die oorspronklike swembad staan steeds. Net skade dat die Engelse, met hulle “nuwe” ontdekking van ‘n “third way” nog nie kon uitwerk hoe om al daai warm water (meer as ‘n miljoen liter ‘n dag) nie ongebruik te laat wegloop nie. (Moet dalk vir Tony Blair as ‘n konsultant huur en ontslaan as Eerste Minister, as ek my stuiwer in die armbeurs kan gooi.) Die baddens was tegelyk tempel, wasplek, uithangplek (letterlik en figuurlik, klink my) en ook kuurplek. Die dreineringstelsel vir die baddens dateer ook nog uit die Romeine se dae. Die gebou wat die baddens deesdae omring, is meer modern; eers in die 18de eeu deur ‘n sekere Baldwin gebou.

Ook die Bath Abbey kry ‘n beurt. ‘n Kerk is ‘n kerk is ‘n kerk; sommiges is net 500 jaar oud. Kon nie help om te glimlag toe ek sien dat dié een gebou is na die biskop ‘n droom gehad het waarin hy aangesê is om ‘n nuwe kerk te bou nie. Nê. Wat’s nuut onder die son?

‘n Voetslaan toer na die Sirkus sluit die dag af en ons keer terug B&B toe vir nog ‘n koppie koffie vir die meisies en migraine vir my.

Sondagmôre vat ek die trein Londen toe om ‘n vriend van Amerika te ontmoet en ‘n kragtoer van Londen in te pas. Hyde en Green Parke, Buckinghampaleis (want dis soortvan op pad na die stasie en Nick weet wragties nie dis die koningin se blyplek nie…), Leicester Square, Covent Garden, Tower of London, Towerbridge, Greenwich en die heilige Paulus se Katedraal. Gelukkig raak ek nou al weer gewoond aan baie voetslaan.

Die meisies gebruik my afwesigheid en durf die Museum of Costumes en Bath se winkels aan. Mmm. Geseënd is ek onder die volke!

Ek mis die trein terug na Bath met enkele sekondes (dit werk net in flieks om die trein in te hol!)en moet myself ‘n hele uur op Paddington Stasie met die koerant vermaak. En natuurlik kyk die 3 vrouens my met groot oë aan toe ek uiteindelik in Bath aankom. Ek verwag (verdiende) raas, maar nee, hulle het gelukig te veel spoke opgejaag om te baklei.

Volgende oggend verwar ons die Siciliaanse mama totentaal, want skielik is ons alvier van die vleis af en ons wil eiers hê; nie gebraai nie, maar geroer. Haar hele uitdrukking sê: Gekke vreemdelinge… Maar nou ja, we pay, we say.

Met ons magies vol, pak ons die pad terug huis toe aan, met ‘n afdraai na Stonehenge. ‘n Heel indrukwekkende plek om te besoek, selfs al is die klippe kleiner as wat ek verwag het. Prentjies kan ook soms jok!

Volgens die argeoloeë het bouwerk daar al so 5050 jaar gelede begin en tipies van priesters, moes dit chronies groter en beter tot die bouers so 3500 jaar gelede besluit het genoeg is genoeg: Hulle staak. Hoekom (beide stop en bou) kan ons maar net raai, maar daar’s genoeg teorieë om mens mee te vermaak. Dit is darem so dat op die dag- en nageweninge en die 2 sonstilstande die son op besonderse plekke deur die boëe val; ek reken dus dat die son vir hulle ook belangrik was. En die ingenieurvernuf was iets besonders. Die ding van Stonehenge is dat iemand anders jou nie eintlik kan vertel hóé dit is nie; mens moet self daar staan en die klippe met jou laat praat.

Na ons toer om die klippe in ‘n ysige wind, praat die koffielus weer hard! Eindig met koffie en botterbroodjies op die randsteen net toe ‘n toerbus sy vrag Amerikaners uitspoeg. En ons staar na mekaar; hulle so raserig soos hulle veralgemeen word en ons smullend soos apies in die dieretuin. Wie kyk vir wie? wonder ek onderlangs.

Maar soos my pa sou sê, die pad is lank en die klippies skerp en ons laat die Pietjoodjie weer kreun onder ons (nou groter) massa. Ek praat minder (en navigeer dus beter, wat natuurlik net die teorie dat vrouens beter is met multi-tasking bevestig) en ons vat die kortpad terug huis toe. Maandagmiddag vieruur ontknoop ons onsself by 98 Maidstone Road, Rainham.

Wat ‘n naweek!



© Stephan Smit 2002

Terug na Skryfwerk Indeks Enige kommentaar? E-pos my!