Atlanta Braves in aksie. Soort van.

Situasie
Greg, ons predikant, rig sy seun se Little League bofbal span af & ek gaan kyk gewoonlik wanneer sy span speel. Brenda Dunn, die versekeringsagent deur wie ons ons huis- & motorversekering gekoop het, kom van Zimbabwe. Sy’t ook ‘n seun wat Little League bofbal speel & ek’t haar ‘n paar keer by wedstryde gesien en gaan hallo sê. Sy het ‘n paar kaartjies na ‘n wedstryd tussen die Atlanta Braves & die Florida Marlins gekry as beloning vir goeie werk, maar omdat dit in die middel van die week & ‘n middagwedstryd was, kon sy nie gaan nie. Aangesien ek darem van dieselfde kontinent as sy kom (en moet ek heel beskeie byvoeg, sy dink ek ‘n goeie Little League coach sal maak omdat ek mooi met die kinders werk & hulle ‘n nuwe afrigter vir hulle span soek & ek dus iets meer van die spel behoort te weet...) bied sy die kaartjies vir my aan.

Opdrag
Woon ‘n bofbalwedstryd op Turner Field¹, Atlanta by op 181310Z Jun 98 by ‘n temperatuur van 33ºC en relatiewe humiditeit van 85%.

Uitvoering
So ruk ek & Greg toe op. My eerste ervaring as toeskouer van ‘n professionele bofbalwedstryd. Ek tot die tande bewapen met ‘n Klein Karoo Nasionale Kunstefees bofbalpet, verkyker & 3 liter vloeibare versterkings ². Greg sommer netso. Hy hou daarvan om sy neus rooigebrand te kry & sy vrou op hom te laat gil, sê hy.

Die stadion is groot. Soos Ellispark reken ek; sitplek vir seker 55,000 mense. Sitplekke kan opslaan soos ‘n teater s’n, met die onvermydelike plek waar mens ‘n glas kan inpas. (Alles in Amerika het sulke plekke -- tot hulle karre.) Beknop; met my en Greg langs mekaar, moet ek aanhoudend weg leun van hom, hy’s bietjie oor-uitgedaag massa-gewys, en met my knieë wat teen die ry voor my druk, is dit geen geringe prestasie nie en natuurlik heel bevorderlik vir ‘n goeie postuur en pynvrye rug.

En dit alles om te sien hoe ‘n klomp groot mans na ‘n harde klein balletjie slaan met ‘n ronde metaalstaaf en as hulle raakslaan én nie uitgevang word nie, hulle hul malle verstand afhardloop tussen drie witgeverfde kussings om voor die bal by die kussings uit te kom. (Ek dink nie hulle het al daaraan gedink dat as hulle die bal effens groter & die metaalstaaf plat sou maak, dit hulle kans op sukses dramaties sou verhoog nie. Maar dan's dit seker te veel soos krieket.)

Maar ek loop myself vooruit.

Om die fenomeen (spesiaal vir Hans) “Bofbal” na behore te kan waardeer, gaan ons heel eerste op ‘n toer van die stadion. Daar’s die Braves museum & die Braves ondersteuners klub. Daar’s die area met al die concession stands (die Amerikaanse term vir almal wat eet- & drinkgoed ens. verkoop) & oppad soontoe, die "Bull pen". Daar warm die “pitcher” (nie ‘n beker vir water nie, maar die mens wat teen ‘n verskriklike groot salaris die klein wit balletjie verskriklik vinnig (so 120 - 150km/h) na die ou met die metaalstaaf gooi) op, kompleet nes ‘n gedierte in die dieretuin terwyl al die mens vir hom loer. Nee, hulle voer hom nie grondboontjies nie. Aanbid net rondom sy handtekening.

Ek pleit skuldig: toe hy die bal waarmee hy nou net opgewarm het na die skare wil gooi, steek ek ook my hand op & so wraggies, daar gooi hy hom vir my. Ek belowe. Ek’t dit raakgevang (wonder bo wonder) & my oomblik van weggevoerdheid gerasionaliseer as dat ek Justin (Greg se 7-jarige seun & kranige amateur bofbalspeler) se dag sal maak met die bal. (Wat ek het.)

Terug van die afdwaalpad. Oppad concessions toe. Daar is videobofbalspeletjies & ‘n “virtual reality” kolfplek. Kies net jou pitcher, helm & kolf & gaan maak jou naam krater deur al 7 balle wat na jou gegooi word, te mis. Rasionaliseer deur te sê jy kon nie die skerm so mooi sien nie, of jou arm is bietjie styf van gister se wat-ookal. Klink nes ‘n klomp vissermanne.

En ‘n “band” met raserige musiek om die mense op te sweep. Natuurlik, agter die verhoog ‘n reuseskerm waarop grepe van die toeskouers intyds gewys word. Ek reken die kameraman is nie skeef nie, want hy’t ‘n bepaalde voorkeur vir mooi jong voorbeelde van die vroulike vorm van die spesie getoon. Daar leer ek die “tomahawk chop” -- as die regte musiek speel dan kap almal in die lug met hulle regterhande soos ‘n speelgoedsoldaat met pap Duracels. En die kinders wil ALMAL soontoe (dis nou verhoog toe) want ‘n klomp van die Looney Tune karakters dwaal rond & deel drukkies & foto-geleenthede & handtekeninge uit. (vir die ongekultiveerdes soos ek: Mickey Muis & Kie = Walt Disney. Donald Duck & Kie = Looney Tunes = Warner Brothers. My vriend Hans lig my so in.)

Maar wedstrydtyd kom nader & ons het nog nie ons sitplekke nie. Verdere verkenning bring aan die lig dat ons heel bo (= vêr) sit. Maar Greg is ‘n ou hand & sê die dag- wedstryde is nie so vol nie & ons glip binne om beter sitplekke te kry. Reg in die son, maar die manne sal, as alles volgens plan verloop, meestal min of meer in ons algemene rigting slaan.

Nie dat dinge volgens plan verloop nie. Die eerste 3 “innings” gaan verby sonder ‘n enkele lopie. ‘n Lopie word eers aangeteken as die kolwer verby aldrie bowwe (witgeverfde kussings) was & terug is waar hy begin het. ‘n “Homerun” (slaan die bal ver/hard genoeg dat hy by aldrie bowwe verbygaan sonder om op een te stop) tel ook net vir ‘n enkel lopie. Bra onregverdig dink ek, maar die vermoeë om homeruns te slaan maak ‘n groot verskil aan ‘n man se salaristjek, so wie gee om hoeveel dit tel? En die manne slaan balle in allerhande rigtings. Hulle het slaan seker 20 balle tussen die skare in & anders as in krieket, is dit ‘n verlore bal. Hulle haal doodgewoon net die volgende een uit die sak.

Ons sit in die son & drink Powerade & sweet & kyk naderhand vir ander dinge as bofbal, want op die veld gaan nie veel aan nie. Opmerklik hoe baie ooms hulle mooi jong niggies na so middagwedstryd vat. Die uiteindelike telling (na 9 beurte & drie ure later): 3-2 in die Marlins se guns. So tussendeur probeer Greg my die fynere nuanses van die spel leer & uitwys, maar ek moet bieg, dit laat selfs 'n 5-daagse kriekettoets na 'n vinnige & opwindende sport lyk. Gee my enige tyd die "Little League" wedstryde: minstens speel die laaities met passie & oorgawe & gee die ouers mens nog gratis bykomende vermaak.

Lesse geleer:
1) Ek’t nog altyd verkeerd na sport gekyk. Uiteindelik het ek nou die insig dat op hierdie vlak dit nie meer sport is nie, maar besigheid. En suiwer kapitalisties, is die werkers hulle reuse salarisse werd, want dit word bepaal deur vraag & aanbod. En die arme drommels (soos ek) wat verwag dat hulle ‘n rolmodel moet wees vir kinders (o.a.) het die kat aan die stert beet.

2) Ek dink dis ‘n kulturele ding, maar dit was nie so opwindend as wat ek verwag het nie. (Dis lekkerder om te hoor van die boksgeveg tussen die Iere & die Springbokke. Dit sal hulle leer om die opposisie te ge-ondersteun het in die struggle!)

Voetnotas
1) Die Turner Field is ‘n nuwe stadion. Daar was blykbaar groot omstredenheid/ onsekerheid na wie die stadion vernoem sou. Ted Turner van CNN-faam het toe maar die stadion uit sy eie sak gebou & wat kon die arme mense anders doen as om dit na hom te vernoem? Dis ook die "ou" Olimpiese Stadion (1996 se Spele).
2) Ha, julle dink ek’t bier gevat! Nee, net vervelige water & Powerade. Interessant: Daar loop heeltyd bierverkopers tussen die skare rond, maar teen $4,50 ‘n bier was ek nie SO lus vir een nie. As mens koeldrank of water wil koop moet jy opstaan & “concession stand” toe; g'n knaap wat rondloop en smous nie. Dis goedkoop; net $3 vir 500ml water of Coke. Een van die ander “dienste” wat die bierverkopers verskaf, is om wie ookal gegooi wil wees, met ys te gooi.

© Stephan Smit 2002

Terug na Skryfwerk Indeks Enige kritiek of kommentaar? E-pos my!