New York New York!3>Uiteindelik! Die langnaweek waarna ons so lank uitgesien het, het aangebreek. Vrydagmiddag, "Labour Day" langnaweek en ons is oppad na New York. Die fles is vol koffie, die koelsakkie bult met broodjies, sappies & vrugte en die AA se "personalised route map" wat ons ewe gaaf waarsku waar die die polisie streng is oor die spoedgrens, lê oop op die regte bladsy. Die vrouens het my verbaas met hoe lig hulle gepak het: Sampie se kattebak is nie eens vol nie. Of is dit eerder ‘n geval van hoe ruim Sampie se kattebak is? Net so effens mal: 2,600km heen & weer — en dit vir net 2 dae. Maar wat de heng. Dis nie aldag wat mens gratis in New York kan bly nie & die brandstof is heelwat goedkoper as die goedkoopste vliegtuigkaartjie -- as mens natuurlik plek op die vliegtuig sou kon kry. (Ek’t oor die radio gehoor dat dit die besigste dag in lugvaartgeskiedenis in die VSA sou wees; net 2 miljoen passasiers om te skuif.) En ter wille van die ekonoom in my: ons ry-geleehtheidskoste is ook nog laer as die vliegtuigkaartjieprys. Die Interstate 85 vloei goed tot naby Greenville (so 100 myl van Atlanta) en daar begin ons & ons blase opdam. ‘n Uur en ‘n half later kom ons by die probleem uit: 'n "18 wheeler" met 'n vrag bytsuur het op die snelweg omgevoeter & die pad noord is toe. Die "State Police" beduie soort van 'n ompad maar dit kos goei navigasie deur Sonja & Mia om ons weer terug te kry op die Interstate. Daarna gaan alles voriewind, totdat ons net anderkant Washington DC verdwaal oor ek die kaart verkeerd lees & ons omtrent nog ‘n driekwart uur kos. In Washington gooi ons naby Andrews Lugmagbasis (dis nou die een vanwaar die Amerikaanse president opstyg) brandstof in. Die buurt is maar donker & die paaie vol slaggate. Nie eintlik die beste deel van die stad om in te wees nie. 'n Kennisgewing op die brandstofpompe maan om na donker éérs te betaal & dan te pomp. Hmmm. Ons voel alhoe tuiser. Net om die hoek van die vulstasie is 'n laatnag doughnut winkeltjie & ons gaan soek vars koffie & iets om aan te knibbel. Terwyl ons sit & ontspan, kom daar so lang slap limousine ingetrek & klim 4 African Americans uit, 2 paartjies, & maak hulle tuis op die plastiekstoele & melanientafeltjies. Niks minder nie as ‘n bruidspaar & strooijonker & kie, skinder ons onder mekaar op Afrikaans. (Of dalk het hulle van ‘n “prom dance” afgekom; wie weet, die rokke was in elk geval baie wit). Heel alternatiewe onthaal, sou ek sê. Na 18 uur op die pad is ons uiteindelik naby New York -- net om te ontdek dis nie heeltemal so maklik om Karin se blyplek te kry as wat ons gedink het nie. Hackensack is net in die algemeen aangedui op ons kaart. Laat ons tog net stilhou en ‘n BEHOORLIKE kaart koop, knor Mia moeg. So gesê, so gedaan. Maar nog is het einde niet. ‘n Barmhartige (New Yorkse) Samaritaan sien my & Mia in die wind stoei met die kaart & eers dié kant toe & dan daai kant toe draai soos ons onsself probeer oriënteer, met die opkomende son & die vreemde stadseinder as bakens. Ewe vriendelik bied hy aan om voor ons uit te ry & lei ons so na Prospect Laan, waar ons kwansuis wil wees. Net om te ontdek dat Hackensack op ons kaart & Hackensack op die grond, nie veel grense in gemeen het nie. ‘n Ander Samaritaan gee die algemeen aanvaarde & berugte reputasie van New Yorkse onbeskoftheid ‘n verdere knou. En beduie ons na die “regte” Prospect Laan, wat toe inderdaad in Hackensack is. (Die ander een is in Meadowlands, deel van die Borough van Hackensack, maar nie die dorp nie). Karin kry amper ‘n angsaanval van verligting om ons te sien -- sy’t klaarblyklik minder vertroue in haar padbeduie vermoë as ek in my rokmaak vermoëns. Nou sê sy my. Les in Amerikaanse aardrykskunde: New York Stad is in die staat New York; letterlik op die grens. Baie van die groter metropool is egter in die staat New Jersey, Hackensack is dus deel van die New Yorkse metropool, maar nie “deel” van die stad nie & in New Jersey. Nog een van daai lawwighede wat ons so baie oor die wêreld sien: funksioneel is dit een plek, maar administratief & andersins is dit nie net verskillende stede nie, maar soms ook verskillende state. In stedelike geografiese terme ‘n heerlik onderwerp om te studeer, maar ek sal julle nie daarmee verveel nie. By Karin ontmoet ons Michelle, Cathy & Natasha -almal van hulle ook Suid-Afrikaanse arbeidsterapeute. Wat natuurlike beteken dat ek nie nie net die engiste doring onder die rose is nie, maar ook die engiste een wat nie 'n arbeidsterapeut is nie. Na nog koffie & baie "white noise" (lees: arbeidsterapuete wat "shop talk") gaan knip Sonja, Mia & ek 'n uiltjie. Karin maak piekniek & die ander drie vorm ‘n voorspan om solank vir ons goedkoop kaartjies vir ‘n show te gaan koop. Skaars ‘n 3 ure oogwink later, val ons die grootte stad via die bus binne. BAIE mense. “Damn foreigners” brom Karin, sonder enige sin vir ironie, onderlangs. Ek dink Engelsprekendes is in die minderheid in New York. Tussen al die mense-gemaal deur, pyl ons reguit op ons voorspan by die afgespreekte ontmoetingsplek af -- kon nie kaartjies vir Broadway kry nie, maar darem vir “Off Broadway”. En net om seker te maak dat ons nie dink dis ‘n common ou teatertjie nie, plak hulle foto’s van al die beroemdes wat al daar gespeel het, teen die trappe op. Ek herken darem Farah Fawcett & die dik tannie van “Fried Green Tomatoes”. “I Love You, You’re Perfect, Now Change”. Pittig, snaaks, & heeltemal te na aan die waarheid. Vertel die “dating” storie in New York met breë toepassings vir die res van die wêreld ook. Selfs ons derde-wêreldlinge herken die mense & hulle dinge. Ek wens ek kon ook die wêreld rondom my so gepas & raakvat beskryf. Daarna af in Fith Avenue -- dis blykbaar ‘n bekende straat in New York. Is nie heeltemal seker hoekom nie, maar gaan in die wandeling by Times Square verby, St Patrick’s Cathedral (sitplek vir 2,400 mense, orrel met 7,380 pype & hulle hou “mass” so saam-saam met die toeriste se wyd-ogige gadeslaan), die Rockefeller Sentrum (net 3 en ‘n half staat blokke groot met 10 hektaar se winkels waaruit ek die vrouens gelukkig kon hou) & maak ‘n draai in Central Park. Sien nie 'n perdekarretjie of mense wat draf nie, maar darem so hier daar iets vleiends vir die oog. Kort voor lank is die vrouens se voete moeg, hulle blase vol, en ek’s in die minderheid. So, huiswaarts sal dit wees vir ‘n laat aandete & kort nagrus. Maar eers moet ons die publieke vervoer oorbrug. Terwyl Karin & Michelle hulleself opstry oor watter trein om te ry, vra Mia pad & kry ons uiteindelik koers terug bus toe. Ek’s ‘n man — verhewe bo dinge soos padvra & verdwaal. Bowendien: Ek't my kwota padvra vir die jaar reeds vroeër die dag opgebruik. Sondagoggend breek met goue lig & louwarm lug. Ek neurie maar Johannes Kerkorrel se Somer; van die wysie af & met my eie woorde om darem ‘n SA-kaanse geur aan die dag & omgewing te gee. Vir ontbyt gaan ons na IHOP & ek ontdek dat dit eintlik vir “International House of Pancakes” staan. Die mees internasionale ding in die plek is die esdoringstroop wat toevallig uit Kanada ingevoer word; met ‘n effens gerekte verbeelding sal die Italiaans-Amerikaanse kelnerin met die kort rompie seker ook as internasionaal kan deurglip. Verder is alles eg Amerikaans. (Lees: Lekker olierige kos; verkieslik geëet met BAIE stroop. Dis nie nodig om sout op te gou nie, dit kom gewoonlik in oormaat. As jy wil melk in jou koffie hê, vra, anders drink jy "half&half" (half melk & half room/nie suiwel verromer. Cholesterol.) Maar mens kan jou nietemin heel doeltreffend oorvreet. Na ontbyt vaar ons die stad in Karin se 4x4xvuurwa binne. By die Hudsonrivier ruil ons die vuurwa vir voete & vaar ons met ‘n veerboot oor die rivier. Ons kry ‘n mooi prentjie van die sigseinder van New York. (Om meer akkuraat te wees: Middel Manhattan) Die busrit die middestad in, is ingesluit by die prys & ons sorg vir ons mede-passasiers se daaglikse vermaak deur in 42nd Street af te klim, inderhaas terug te skarrel toe die helfte van ons groep op die bus bly & na ‘n blitsvergadering weer afskarrel. Die busbestuurder plant die uitklop hou teen New Yorkse onbeskoftheid deur heel gaaf ons die regte ding te help doen. Wat inderdaad was om af te klim. Ons ontmoet Ossie (‘n gebore & getoeë New Yorker & oud-kollega van Karin & Mia) & “gang-press” hom as ‘n toergids van die subway (ondergrondse trein). Baie gerieflike vervoermiddel, maar baie onverstaanbaar, soos so doeltreffend deur Karin & Michelle gedemonstreer. Selfs vir my manlike brein. Loop orals rond & beloer al die duisende hoë geboue met al hulle wisselende boustyle. Van argitektuur weet ek te min om name by te sit, maar selfs ek kan sien dat dit in verskillende style & eras gebou is. Wissel van vrek lelik & oud tot mooi & modern & alles tussenin & omgekeerd. Herinner my aan “The Fountainhead”. Gaan staan in die tou by die “World Trade Centre” & betaal die $12 om die hyser te ry -- 107 van die 110 verdiepings sonder om een keer op te kom vir asem. Ek wonder of dit “rocket assisted” is? Mens se maag bly so lekker op die hysbakvloer sit. Loop daarbo rond en beloer New York uit die lug. Mens kan 3 state en op ‘n helder dag 55 myl vêr sien. Hmmm, sal hulle woord daarvoor moet vat. Dit was seker voor die ontdekking van die kar & gepaardgaande besoedeling. Die afgaan doen ons in 3 stoppe & besluit om die veerboot Staten eiland toe te ry. Voel soos groot verneuk, want ons stap by die ellelange tou van mense wat wag om “Statue of Liberty” toe te gaan, verby & klim op ‘n boot wat ons baie naby aan die standbeeld verbyvat & ons op die koop toe niks kos nie én ons ‘n mooi blik oor Lower Manhattan gee. Ongelooflik om te dink daar’s mense wat elke dag van hulle lewe die veerboot moet ry as deel van die reis om by die werk uit te kom! Die Museum of Modern Art is volgende op die lys. My gebrek aan kultuur slaan deur terwyl ek soek na die “modern art”, maar al wat ek kry is modern & art, en gewoonlik nie op dieselfde plek nie. Maar meer ernstig: daar’s regtig ‘n paar besondere goed -- o.a. ‘n Monet wat seker 15 x 3 m groot is & teen meer as een muur uitgestal word. Ek dink dis ‘n prentjie van ‘n poel met waterlelies in blom. Ander goed sluit in fotografie & hiper realistiese skilderye. Na 2 ure ly ons aan totale sensoriese oorlading en vlug. (Ek reken 20 besoeke oor 100 dae versprei teen 2 ure per besoek sal dalk meer reg laat geskied) En voor ons ons oë uitvee, lê die dag op sy rug & moet ons Mia se behoefte aan Thai kos probeer bevredig. Daarvoor moet ons met die subway op (of af?) karring na die Green Wich Village; uithangplek van die alternatiewes & kunstenaars. In omtrent enige sin van die woord. Die vrouens is beswaard oor die mooi mans wat nie van enkellopende meisies hou nie & ek oor al die mooi vrouens wat nie eens 2 keer na die mooi mans kyk nie. Skade! Maar wat, gun elke diertjie sy plesiertjie. Ons kry ons eetplek, na talle draaie & nog meer dollars later is die oordeel uit: nie sleg nie, maar Yindees is beter. ‘n Paar algemene indrukke & waarnemings: ek weet nou ook wat ‘n New Yorkse aksent is. Die geel taxi’s in die flieks is regtig & hulle is lief vir hulle toeters & ken nie eintlik maniere soos ons dit sou definieer nie. En hulle is orals. Ek wil nie in New York bestuur nie. Daar’s baie (in altwee betekenisse) lang tonnels onderdeur al die riviere sodat die mense by hulle werk kan kom (New York is in totaliteit, behalwe vir een borough, op eilande) En mens sal waarskynlik in ‘n leeftyd nie alles kan ervaar wat die ou stadjie het om te bied nie. Egte New Yorkers is oënskynlik ook nou in die minderheid, want ons het die mense as vriendelik & hulpvaardig belewe. (En met die wat goor was, het ek op Afrikaans terug goor gewees -- met goeie gevolg.) Hulle kan egter nog by die Britte gaan kers opsteek om regtig toerisme ge-orienteerd te wees. We came, we saw, we left. But we’ll be back... |
|||
© Stephan Smit 2002 |
|||
| Terug na Skryfwerk Indeks | Enige kritiek of kommentaar? E-pos my! | ||
|
|
|||