Tornado!In retrospek, was ons gewaarsku. Soos gewoonlik het ons Woensdagaand by die kerk gaan eet. Op pad soontoe het ons oor die radio die “severe weather warning” gehoor dat daar 'n "tornado watch" was tot 20:00 vir die noorde van Fulton en Gwinnet counties. Ons was nog nie so goed bekend met ons nuwe omgewing nie en dit nie lekker gekliek dat dit óns was van wie hulle praat nie... Vroeër die dag was daar ‘n waarskuwing uitgereik vir Dekalb County & Sonja-hulle het by die werk instruksies gekry wat om met hulle pasiënte te maak in geval ‘n tornado wel opdaag. (Alle radiostasies word onderbreek met sogenaamde “severe weather warnings”. ‘n “Watch” beteken dat die omstandighede gunstig is vir die vorming van tornado’s. As ‘n tornado iewers waargeneem is, word ‘n “tornado warning” uitgereik.) Hoe ookal, na ete het ons huiswaarts gekeer en is ons so 10:00 se kant bed toe sonder om weer te luister na die weerberig. Middernag word ons wakker van 'n hengse donderstorm met baie geblits. ‘n Ruk later hou die donder op, maar nie die geblits nie; kompleet nes 'n baie skerp buislig wat nie behoorlik wil aan nie. ‘n Paar haelkorrels val en skielik is daar 'n doodse stilte wat onderbreek word deur ‘n diep aanhoudende gedruis. En ons besef: die gedruis is wind en hierdie ding is 'n tornado. Sonja het skielik g'n probleem om uit die bed te kom nie, begin al die blindings toemaak en jaag my aan badkamer (die enigste vertrek sonder 'n buite-venster) toe a la haar werksdril, waar ons ontdek dat ons g’n elektrisiteit meer het nie. Ons was bietjie benoud, maar nie vreeslik bang nie. (Uit onkunde.....). Die nag was anderwêrelds: aanhoudende blitse, maar g'n donderweer nie! Uit nuuskierigheid (en domastrant / onnoselheid) loer ek so ewe om die hoek om te sien wat gebeur buite. Toe ek sien hoe een van die groot dennebome voor ons woonstel skielik parallel met moeder aarde raak, besef ek: hier is moeilikheid! Skaars 10 minute (skat ek) later was alles verby. Chip, een van ons bure, kom klop om te vra of alles reg is; niemand in ons omgewing het seergekry nie en die skade wat ons kon sien aan die blok woonstelle was gering. Buite was ‘n ander saak. Wat ons kon sien in die lig van ons flitse was chaos: Die bote in die parkeerarea het so 30m laer af gestaan as gewoonlik, en een het 'n denneboom as versiering gehad. Laat kersfees. Chip se nuwe kar het 'n sleepwa DEUR sy deur parkeer gekry. Arme man. Bome, takke en blare het orals rondgelê, maar steeds het almal gedink dinge was nie te erg nie. Na nog so 10 min se opgewonde buite ronddwaal, het dit weer begin reën en het ons nog 'n hengse donderstorm vir nog omtrent 'n uur na 'n uur en 'n half gehad. So erg dat ons nie kon slaap nie. Erger as die ergste Hoëveldse donderstorm wat ek al beleef het. Donderweer wat die aarde laat dreun en die reuk van osoon skerp in die neus. Die volgende môre kon ons alles mooi te siene kry. Die tornado het nie ge-"touch down" nie en alles is so 5 meter bo die grond afgebreek. 'n Klompie bome is ook ontwortel. En skielik is ons nie meer lekker knus weggesteek agter ‘n dennewoud nie, maar is die buurt so 100m weg van ons kompleks, duidelik sigbaar. Ons het ons buurman bo ons koppe hoor meubels rondskuif gedurende die donderstorm en kon ons sien hoekom: g'n dak meer nie. Afgelig en buite sig neergelaat. Oor die radio het hulle gesê 73,000 mense was sonder elektrisiteit. Onsself was amper 3 dae sonder krag — gelukkig het ons ‘n gasstoof en -geiser gehad en het ons gaspype nie gebars nie. Om Sonja by die werk te kry, was chaos. Die hoofingang na ons woonstelkompleks was toegeval deur bome en so ook die roete wat ons gewoonlik gevolg het. Polisie was orals aan diens om die verkeer te reguleer en seker te maak net inwoners kan die area binnekom. Ons kerk het ook lekker deurgeloop. Ses groot denne het die gebou hulle rusplek gemaak en 'n paar reuse gate in die dak geval. Die parkeerterrein (plek vir 100 karre) was aan die eenkant feitlik toegeval. Die agterplaas (so 3 rugbyvelde groot) was net so ‘n gemors. Goed driekwart van die bome daar is afgebreek. (En dit het soos 'n plantasie gelyk voor ons ou stormpie.) Ons het 2 dae daar opgeruim en voor dit weer na iets begin lyk het. Van die kerk gepraat: die gebou was deur ‘n ry bome van die hoofpad afgeskerm gewees. ‘n Deel van die gemeente het gevoel dat ons dit moet laat afkap om die kerk meer sigbaar te maak, maar ‘n klompie van die ouer garde (nie noodwendig in ouderdom nie, maar jare lidmaatskap) het gevoel dat dit nie nodig is nie. Nou’s die bome weg en soos Greg Cruice, ons predikant ewe droog opmerk: “God has decided…” Dit was gelukkig 'n klein tornado, blykbaar 'n F1 met maksimum windsnelhede van 440 km/uur. Dieselfde nag is Alabama ook getref: 32 mense dood, 'n F4-5; tot 600km/h. En dan's daar mense wat die goed jaag..... Ons het regtig nog nooit soveel skade gesien nie. Mens kan dit nie beskryf nie. Greg het in Louisiana grootgeword en het al 'n paar orkane beleef en selfs dít sê hy, is nie so erg nie. En ons? Ons het lig daarvan afgekom. Al skade is ‘n paar lelike krapmerke op ons kar, bietjie kos wat ons moes weggooi omdat die yskas nie gewerk het nie en ‘n paar lelike kolle op ons plafon soos die reën van bo af deurgelek het. |
|||
© Stephan Smit 2002 |
|||
| Terug na Skryfwerk Indeks | Enige kritiek of kommentaar? E-pos my! | ||
|
|
|||